IN GESPREK MET J.J BRITS

.

DIE IDEE VIR ‘n projek het reeds jare terug ontstaan in ‘n straat in Durbanville maar hierdie jaar blyk om die amptelike begin te wees van ‘n vars klank deur ‘n nuwe musiekgroep.

.

Dié Afrikaanse groep is ZANDKLOOF en bestaan uit Milan Joan en Die Wolf en hulle staan vir niks terug nie.

.

SMALL ROOM STUDIO PRODUCTIONS se producer, Jandre Spangenberg, het iets in Die Wolf se werk gesien. Die Wolf het eers vir Milan Joan in September genader en sy het eers werklik op die voorgrond gekom kort voor die opnames in vroeg Februarie begin het. Die ZANDKLOOF kort-album is pas voltooi in die Wes-Kaapse opname ateljee te Melkbosstrand, en die span is tans aan die woeker om hul musiek na nuwe hoogtes te neem.

.

Die Wolf, liedjieskrywer van formaat, het vyf uitsonderlike liedjies vir die kort-album geskryf. “Ek wou Afrikaans skryf wat nie op die radio speel nie, maar dit dan radio toe vat,” erken hy. “Die lirieke spreek tot almal, en suiwerheid van my moedertaal is vir my baie belangrik. Woorde soos “bokkie” en“rooi rokkie” sal nooit in my werk verskyn nie.”

.

Milan Joan, die groep se anker sangeres, het haar goed van haar taak gekwyt om dieselfde styl, maar in Afrikaans, tot die snitte op die kort-album te bring. Haar falsetto is eerie maar in die kol en haar sang styl herinner ook aan Katie Melua en Norah Jones.

.

Tydens ‘n onderhoud het Milan Joan die volgende gesê:

“Alhoewel ek nie in haar skoene volg nie, is Lana Del Rey verseker my gunsteling sangeres. Ek kan nie genoeg kry van haar styl, die gevoel van haar musiek en die slim lirieke nie. Ander kunstenaars wat my deur die jare beïnvloed het is Florence and the Machine, The Civil Wars, die indie band Daughter, en meer onlangs The Cranberries.

.

Vandat ek kan onthou was ek lief vir musiek. My ma het seker gemaak dat ons kinders ‘n sterk liefde vir musiek ontwikkel. My eerste musiekinstrument was die blokfluit. Ek het daarna ‘n bietjie dwarsfluit ook gespeel. Ek kan ook klavier speel, maar niks om oor huis toe te skryf nie. My gunsteling instrument is die kitaar wat ek van graad agt af speel.

.

Ek wou van kleintyd op die verhoog en voor die kamera wees. Dit is iets wat ek graag wou doen, sonder om te vrees dat ek dit dalk nie in my het nie. Ek het deur die jare gevind dat musiek ‘n groot platform is waardeer ek ander mense kan bekom wat nes ek ‘n liefde vir musiek het, maar dalk hulp nodig het om iets meer daarvan te maak. ‘n Definitiewe dryfkrag was om met mense musikaal te verkeer. Was dit nie vir die geloof wat my ma, my broer, vriende en sangonderwyseres in my gehad het nie, sou ek nie my ware passie nagejaag het nie. Ek wil dieselfde doen; om ander te inspireer met my talent. My ma was so ‘n groot inspirasie en ek wil haar inspirasie oordra aan ander mense.”

.

Die ZANDKLOOF kort-album word 15 April aanlyn  vrygestel. Dit sal digitaal beskikbaar gemaak word. Die publiek kan na die vrystelling die kort-album hier op ZANDKLOOF se webtuiste aankoop.