VOL ARTIKEL SOOS PER NETWERK24 TYGERBURGER.

Die Durbanville-musiekgroep Zandkloof is op ’n missie om “ongekende klanke in Afrikaans na jou ore te bring”.

Die duo wat onder die name Milan Joan en Die Wolf musiek maak, is sterk op pad om bekendheid te verwerf. Liedjies van hul debuut-kortalbum, Brandend vir jou hitte, is reeds op Bok Radio en Bay FM te hoor.

Milan is Zandkloof se stem, terwyl Die Wolf die skrywer en komponis is.

“Dis nie soos Afrikaanse musiek nie,” vertel Milan.

“Maar tog is die woorde Afrikaans.”

Anders as baie kommer- siële Afrikaanse musiek, is suiwer taalgebruik baie belangrik vir Die Wolf, en ’n mens sal nooit woorde soos baby in hul liedjies hoor nie.

“Dis lirieke van die hart,” sê Milan verder.

“Die idee was om iets uniek te doen,” verduidelik Die Wolf. “Ons wou ’n nuwe weg vir Afrikaanse musiek baan.”

Hy wou vir Afrikaanssprekende mense wys dat Afrikaans internasionaal kan kompeteer met Engelse liedjies.

Met ’n kombinasies van rock en elektroniese klanke agter Milan se uiteenlopende stem, is Zandkloof se kortalbum wel iets vars in die Afrikaanse mark.

Die Wolf het van jongs af al liedjies geskryf en alhoewel hy by ander musiekgroepe al probeer het om sy liedjies op die verhoog te bring, was dit toe hy die Melkbos-vervaardiger, Jandre Spangenberg van Small Room Studio Productions, ontmoet het, dat hy besluit het om by hulle op te neem. Dit was ook toe dat hy vir Milan gevra het om te sing.

“Hy sien nie kans om self voor op ’n verhoog te staan nie,” verduidelik Milan van die beskeie Wolf. As ’n skrywer wil hy misterieus bly.

Dis gedeeltelik hoekom hulle skuilname gebruik.

Van jongs af het Milan ook ’n “obsessie” gehad met die idee van skuilname.

Sy wou wanneer sy eendag in die openbare oog is, haar “regte lewe” afsonderlik hou.

Zandkloof het Brandend vir jou hitte in April aanlyn bekend gestel, en tot sterre soos Steve Hofmeyr en Jak de Priester het klaar positiewe kommentaar daarop gelewer.

Alhoewel hulle op die oomblik net twee in die groep is, is die idee om Zandkloof uit te bou sodat hulle later ’n platform kan word vir ander opkomende musikante om blootstelling op die wêreld-verhoog te kry.

Zandkloof sal hierdie naweek op ’n plaaslike verhoog verskyn as hulle’n akoestiese vertoning saam met die kitaarspeler JP le Roux op Saterdag 4 Julie vanaf 11:00 by die Durbanville craft market in Rust-en-Vrede in Wellingtonstraat aanbied.

Toegang is gratis. V

Besoek ww.zandkloof.co.za vir meer oor Zandkloof of om na hul musiek te luister